Skald

'n Minnesanger sing van beroemde dade, deur J.R. Skelton, omstreeks 1910.

'n Skald of skáld (Oudnoors en Yslands vir "digter") was in die Wikingtydperk 'n hofdigter of minnesanger wat skaldegedigte geskryf het. Skaldegedigte is tradisioneel op een geleentheid en deur een mens geskryf, terwyl die ander vorm van Oudnoorse poësie, Eddagedigte, eerder met tradisie verbind word.

Meer as 5 500 skaldeverse in 700 manuskripte het bewaar gebly, insluitende verskeie sagas en in Snorri Sturluson se Prosaïese Edda, 'n boek met skaldegedigte wat tot 'n herlewing in die kuns gelei het. Baie van die verse is fragmente van oorspronklik langer werke en dit is onbekend wie baie daarvan geskryf het.

Die vroegste bekende skaldegedig is geskryf deur Bragi Boddason, bekend as Bragi die Oue, 'n Noorweegse skald van die eerste helfte van die 9de eeu. Die meeste bekende skalde was verbonde aan die hof van Noorweegse konings in die Wikingtydperk, en later was al hoe meer van hulle Yslands. Die inhoud van hulle uitgebreide gedigte was soms mities van aard voor die kerstening van Skandinawië en daarna gewoonlik historiese materiaal wat die dade van hulle beskermhere uitgebeeld het. Die tradisie het tot in die laat Middeleeue voortgeduur.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search